Vetseun FacebookVetseun PageTwitterTwitter (Maarman)InstagramYouTubeLast.fmSoundcloud . . . . . . . . __
Vetseun
Vetseun Boeke Vetseun LPs Vetseun TCs Vetseun VHS Vetseun CDs Vetseun DVDs Vetseun Blu-Rays Vetseun MP3s Vetseun VIDs
Spreuke van C.J. Langenhoven

"'n non-akademiese, non-historiese, non-pedagogiese, pseudo-literêre blad, gemaak net vir lees, geniet en nadink oor sommige van die wyshede van Langenhoven. " Beyers F. de W. Serfontein

Aan Stille Waters spreuke, Die Burger, Versamelde Werke, "Honderd Prekies".

Voorwoord

Daar is honde wat maar net hoef te knor. Dit is dié wat reeds tevore gewys het dat hulle kan byt.

Die mooi weer sal jou nie beskadig omdat jy jou jas en sambreel verniet saamgeneem het nie.

Maak staat op die raad van die man wat twyfel of dit reg is: die man wat nie twyfel nie het die saak maar van één kant af beskou.


Skeur jou los van jou eie nasie af en verwonder jou dat die ander nasies nie oormekaar val om jou in te neem nie.

Moenie jou kinders onskuldige plesier belet nie. Hulle sal dit steel en dan is jy nie daarby om te sien dat hulle nie die skuldige by-steel nie.

As die ander man nie wil die helfte van die pad gee nie, gee jy dan die hele - die een helfte omdat dit jou plig is as sy gelyke, die ander helfte omdat dit jou voorreg is as sy meerdere.

Waardeer jou vrou soos die appel van jou oog. Dis nie 'n geringe saak dat daar iemand is wat onderneem het om haar hele lewe met jou te verslyt nie.

Kyk ieder 'n man waterpas in die oë: jou vader was ook 'n man; maar haal jou hoed vir 'n vrou af, want jou moeder was 'n vrou.

Maak vir die man wat nie omgee nie goeie werk. Die man wat omgee sal dit by hom sien en ook by jou kom bestel.

Dit betéken nie altyd veel om 'n man van belang te wees nie. Die belangrikste persoon op 'n begrafnis is die dooi man.

Jou ore is oop as jy hulle nie eksprés toemaak nie, en jou mond is toe as jy hom nie eksprés oopmaak nie. Dit wys die bedoeling van die gebruik daarvan.


Algemene Spreuke Versamelde Werke

Soek om jou gelykes en jou meerderes te oortuig. Jou minderes sal jy onvatbaar vind.

Moenie jou vriend vergeet nie; dit sal hom seermaak. Maak jou vyand daarmee seer.

Moenie vriendskap en besigheid meng nie - jy bederf albei.

Die toets van 'n man is, hoeveel daar nodig is om hom te laat lieg.

Ja is uitstel, nee is kontant.

Verdra die teestander. Al het hy nie reg met sy verskil nie, hy het die reg om te verskil.

Die ongeluk kan jou oorkom om ingedagte jou gedagte uit te spreek.

Mense wat niks doen, doen nie niks nie: hulle hinder dié wat werk.
uit Beyers F. de W. Serfontein beyers@eng.rau.ac.za Laaste opdatering: 24 Mei '99, se blad


'n EIE BLOEMLESING
Hierdie boek is 'n versameling van stukkies uitgesoek uit 'n agtjarige ophoping van wat onder die naam Aan Stille Waters week vir week in Die Burger verskyn het. Die skrywer was self die uitsoeker. Die leser sou anders uitgesoek het - en elke ander leser weer anders. En die skrywer self ook op ander tye en onder ander buie anders. Maar tog oor die algemeen is die keuse seker verteënwoordigend van die bont gehalte van die geheel. En nou, nadat ek klaar gesif het moet die leser tog maar vir homself oorsif. As hy dan uit elke honderd stukkies tien kry wat hom bevredig, sal hy beter vaar as wat ek nog die geluk getref het om te vaar met bloemlesings waar die bronne om van uit te soek meerderlei was en die uitsoekers meerderwaardig. Geen resensie word gevra nie.
C. J. L.
bo


DIE ONSINNIGHEID VAN ONS BLUF
Daar is honde wat maar net hoef te knor. Dit is dié wat reeds tevore gewys het dat hulle kan byt.

Vir die honde wat blaf hoef jy net te koets en na die grond te gryp al lê daar ook nie 'n klip rond so groot as 'n korreltjie sand nie: hulle vlie om, stert tussen die bene. Hulle wou jou met 'n ledige dreiement verskrik, en hulle word self bang vir jou dreiement wat nog lediger is. Shakespear sê jy moet oppas vir twis, maar as jy daarin is moet jy jou so gedra dat jou teëparty in die toekoms vir jou sal oppas; en die een woord van hom beteken meer as my hele bladsy. Jy moet nooit jammer wees vir die man wat jy mee baklei nie: as jy so goedhartig is gee dan liewer in aan sy onreg, en staan stil dat hy takel as jou mooipraat nie wil help nie: maar solank as jy terug-slaan, slaan seer. Bakleiery is van self so 'n slegte ding dat jy dit nie boonop nog sleg moet doen ook nie. Daar is 'n tyd om skiklik en redelik te wees: maar dit is vóór die geveg; en daar is 'n tyd om grootmoedig of vergéwensgesind te wees (na gelang van die uitslag) maar die tyd is ná die geveg. Daar is nie 'n ding in die wêreld wat dit meer die moeite werd is om goed te doen nie as baklei. Verloor só dat jy jou nie hoef te skaam nie, of win só dat jy nie môre weer dieselfde moeite het nie. Die man wat die bekwaamste spook het die minste nodig om sy bekwaamheid aan die dag te lê.

Daar is 'n vorm van dobbelary met kaarte (ek weet nie hoe die speletjie gedryf word nie en selfs nie die naam nie. Ek dobbel nie, en ek gun my die roem om daaroor te spog omdat daar voldoende ander swart merke op my rekening is) - maar daar is 'n vorm van kaartspel waarby die kuns bestaan in wedersydse "bluf." Die soort "bluf" het ek ook opgemerk by die skikking van waterprosesse, en by die bie op grond-vendusies. Maar dit lyk altyd vir my 'n onnosele soort taktiek wat ewe goed op jou kan terugslaan as op jou vyand. Maak jou gereed om jou ultimatum op te volg en stuur hom dan. Anders moet jy straks mooipraat om jou handskoen weer terug te kry, en by 'n volgende geleentheid sal selfs jou mindere nie van hom notiesie neem nie.

Daar is ouers wat hulle kinders heeldag waarsku en nooit straf nie. Hulle sou beter handel om die kinders liewer uitdrukkelik permiesie te gee om kwaad te doen. Dan sou hulle ook maar die kwaad doen wat die ledige verbod hulle nou nie keer om te doen nie, maar hulle sou nie hulle respek verloor vir die ouers en vir die heiligheid van 'n gegewe woord nie.
bo


DIE KORTKOM VAN ONS VERSIGTIGHEID
Die mooi weer sal jou nie beskadig omdat jy jou jas en sambreel verniet saamgeneem het nie.

Daar is mense wat so uiters versigtig is dat hulle nie hulle versigtigheid verniet wil vermors nie. As die weer bewolk is wanneer hulle van die huis af gaan dan doen hulle meer moeite om op te kyk hemel-toe en die opienie van die bure te verneem en die almanak te raadpleeg omtrent die toestand van die maansveranderinge, as wat dit hulle sou gekos het om maar die klein jong die sambreel op die kar te laat sit. Ek het nie diewe in my huis nie. Ek hoef eintlik maar net my brandkas - pure papiere leser: moenie jou strooi-skuldenaar stuur om 'n ander krediteur in jou plek te kry nie - ek sê ek hoef maar net my safe toe te sluit as ek weggaan van die huis af. Maar nou sluit ek hom al dae. Dis min moeite; die sleutel raak nie opsy nie; en daar is nie gevaar dat ek juis by die nodige geleentheid die toesluit sal vergeet nie.

Ons neem almal maatreëls vir ons gesondheid as ons eers die knak weg het. Dan loop ons met pluisies in die ore rond en rooi flennel onderbroeke: maar die sinkings en reumatiek kom van die jeugdige bloeidae toe ons met die nooi op die nat kweek gesit het. Ons eet nou pappies en ons drink soppies: maar die swak maag kom van die oordaad van ons gesonde lentetyd. Só sukkel ons ons ou lewe deur; ons vergeet dat gehoorsaamheid beter is as offerande; ons oortrek ons rekening op die liberale en weelderig-weldadige bank van die Natuur; en wanneer die onvermydelike bankrotskap volg, loop ons met 'n nukkerig-donkere bakkies rond om die Voorsienigheid te beskuldig van onregverdigheid.

Soos ons met ons liggaam maak, netso ook maak ons met ons siel. In ons onskuldige Paradys-dae wanneer ons karakter nog nie besmet is omdat hy nog nie met die ghries-teer in aanraking gekom het nie, voel ons so sterk en self-vertrouend dat die versoeking geen skrik vir ons het nie omdat ons voel dat hy ons wil nie kan baasraak nie. Die een klein stappie kan ons maar neem want ons weet ons kan weer omdraai. En dan naderhand moet die halfverdronke karakter sukkel om te swem omdat die frisse gesonde in die water in geloop het uit brawado. En wanneer ons tot onsselwe kom, moet ons verbroke liggaam en riempies-gelaste siel met verwyt wat bitterder is as die gal van die hel, terugsien op die grote kanse wat hy vermors het en die kleine wat nog oorbly deeskant die graf.
bo


DIE TOETS VAN ONS RAADSLIEDE
Maak staat op die raad van die man wat twyfel of dit reg is: die man wat nie twyfel nie het die saak maar van één kant af beskou.
Want twyfel is die vrug van versigtigheid, en versigtigheid is die vrug van ervaring. Daarom is 'njonge man so heethoofdig en eiesinnig omdat hy so seker is van homself. Hy kan nie verstaan dat daar mense so dwaas kan wees om van hom te verskil nie: en tog in der waarheid die punte wat hy raaksien, en wat vir hom so oortuigend is, dié het hulle ook raakgesien - maar hulle het daarby verby gekyk en daarvandaan verder ander gesien wat hy nog nie by gekom het nie. Die knapste en ervarenste wetsgeleerde wat jy by raad soek sal sê: "ek is half geneig om te dink dat jy dit kan waag om aan te gaan met die saak." Die onkundige sal sê: "Dons op, jong, jy kan dit nooit in der ewigheid verloor nie."

Dit kos 'n geoefende denker om sy opienie in die balans te hou, en dit nie eenkant of anderkant toe te laat oorhel omdat sy informasie onvolledig is of omdat hy dit nog nie degelik gesif het nie. Die oefening wat hom daartoe bring is sy ondervinding van die baie kere wat hy al in die verlede sy kop gestamp het deur alte hals-oorkop na 'n gevolgtrekking te spring. Dit is juis hy wat voel dat daar bitterlik min vraagstukke in die wêreld is waar hy alles van weet aan albei kante wat daar te weet is en wat hy dus volkome bevoeg is om te oordeel. Eieversekering is nie 'n kenmerk van kennis nie maar van onkunde.

Die man wie se raad jy eintlik nodig het is dié wat beide jou standpunt begryp en die van jou teëparty. As hy maar net jou kant van die saak sien, dan is hy oorbodig want niemand in die wye wêreld kan mos nie so goed sien as jyself nie. As hy net jou teëparty se kant sien, dan kan by jou teëparty gelyk gee of hy ongelyk het of nie. As hy albei kante geweeg het, dan sal hy twyfel: óf die vraagstuk moet so eenvoudig wees dat jy dit by jouself moes uitgemaak het sonder om raad te vra.
Maar hoé 'n goeie karaktertrek dit by 'n wysgeer of 'n raadgewer mag wees: in die praktiese lewe betaal so 'n onbeslistheid nie. Jy moet aan ieder 'n saak soveel verstand en ondersoek bestee as jy redelik tyd voor het: en dan moet jy 'n koers kies. Dit help nie om jou span osse by die uitdraai paaie te laat lê en vrek van die dors terwyl jy beraadslaag watter van die twee paaie die eerste by 'n dam verby gaan nie. Wees twyfelagtig in jou dink, vasberade in jou doen.
bo


DIE VERLEIDING VAN ONS VOLKSTROU
Skeur jou los van jou eie nasie af en verwonder jou dat die ander nasies nie oormekaar val om jou in te neem nie. Ons het nie hier plek vir politieke diskussies nie. Maar 'n mens moet jou voorbeelde in jou eie omgewing soek, sodat die skrywer mag weet waarvan hy skryf en die leser verstaan wat hy lees. Ons Afrikaners het meer aanleiding om renegate te word as enige andere nasie onder die son. Ons volk woon meeste op die platteland en die ander ras wat tussen ons woon meeste in die dorpe en stede. Wat die inwendige karakter betref, kan jy in vele opsigte aan die platteland die voorkeur gee. Daar is minder roekeloosheid, minder wellus, minder gewinsoekery, minder mode-nastrewery, minder konkurensie-naywer; meer liefderykheid. Maar in uiterlike opsigte is die voorregte van die stadbewoner onbetwisbaar. Die kuns en wetenskap is tot sy beskikking; al die hulpbronne van geleerdheid en kultuur is in sy onmiddellike bereik; hy kom in aanraking met die hoogste produkte van die beskawing; hy is beter gewas en gekam en gekleed; ey geesteskring is ruimer, sy taal verhewener. En die uiterlike skyn het die neiging om die buiteman aan te trek, om die dorpsman as 'n meerdere te beskou.
Dan weer, die spreektaal van ons volk het nog geen literatuur nie: hy geniet nie eens die eer van Staat of Kerk of Skool-erkentenis nie.* Dit noodsaak alweer 'n gevoel van minder-waardigheid - van minagting van die eie en verering van die vreemde - afgesien van die aanlokkelikheid van die fyne wêreldstaal aan die ander kant en sy invloed op die gedagtetrant en standpunt van diegene van ons wat hom lees omdat dié tot nog toe skrale voortbrengsels van hulle eie nie aan hulle verstandelike behoeftes kan voldoen nie.
Daarom by die prysenswaardige strewe om oor te neem al wat beste is van die ander kant, is daar die gevaar dat ons deur snobbery op al wat edel aan ons kant is neersien; dat ons deur aanhoudende na-apery ons vir nagemaakte Engelse aanstel. Ongelukkig, ons sal maar nagemaak wees. Ons kan ál ons ou volksgewoontes, die beste met die slegste, weggooi; ons kan ons by die vreemde kerk aansluit; maar die nuwe kring waaronder ons inkruip sal nie deur die namaaksel bedroë word nie. Hulle sal ons verag omdat ons, in die éen opsig waar ons ons minder gewaan het, ons minderheid behou. Die donkie had sy eer totdat hy die leeu-vel omgesit het: toe was hy veragtelik. Maar wat sou jy van 'n donkie dink wat 'n ander donkie-vel aantrek? En wat sou jy van 'n leeu dink wat 'n donkie-vel aantrek? Maar diegene wat lostrek van ons af is nie die leeus onder ons nie, en dié wat vir hulle verwelkom is nie die leeus onder die ander ras nie.

* Ek laat hierdie staan soos hy oorspronklik geskryf is in 1914. Maar ons het in agt jaar meer gevorder as ander nasies in taggentig. (Voetnota deur C.J. Langenhoven by herpublikasie van die oorspronklike werk.)
bo


DIE TUG VAN ONS KROOS
Moenie jou kinders onskuldige plesier belet nie. Hulle sal dit steel en dan is jy nie daarby om te sien dat hulle nie die skuldige by-steel nie.

Moenie opgeskeep wees met jou kweperlat nie, moenie orig wees met jou tug nie, moenie jou strengheid goedkoop maak nie. Jy kan jou kinders slaan oor elke kleine stoutig-heid, en dan plaas jy die kleine op gelyke voet met die grote stoutigheid: want daarby kan jy ook nie meer doen as slaan nie. Maak jou straf seldsaam, maak hom duur, maak hom gewigtig. Jou kinders het 'n verre wêreld om deur te gaan waar hulle baie stampe en stote van vreemde sal kry: daar lê baie droefheid en teespoed en ongeluk nog voor hulle; en hulle dae van onskuldige kindergenot en die lewenslus om dit ten volle te geniet sal hulle nooit weer terug kry as hulle onder die skaduwee van jou dak uit is nie. Hulle begint nog maar hulle weg wat vol strikvalle en slagysters is; hulle het self nie die ervaring gehad om op hulle hoede te wees vir die gevare nie: hulle het 'n vriend nodig om hulle te waarsku en raad te gee. Wees jy die vriend van jou kinders; moenie hulle die moed ontneem om na jou toe te kom met al hulle kleine moeilikhede en besware en teleurstellinge nie. Onthou, jy was 'n kind soos hulle nou is, maar hulle was nooit volwasse soos jy nou is nie. Hulle kan jou nie verstaan om hulle na jou standpunt te skik nie; jy behoort hulle te kan verstaan om jou na hulle standpunt te skik. Dis 'n sware en verraderlike wêreldwaar jy hulle ingebring het sonder hulle keuse: wees hulle beskermer en nie hulle dwingeland nie totdat hulle sterk genoeg is om vir hulleself te staan. Win hulle vertroue, en hulle sal van hulleself te veel dink om jou te bedrieg. Maar anders sal hulle jou belieg oor die kleine kwaad om jou straf te ontgaan, en hulle sal uitvind dat die leuen ook goed genoeg is vir die grote kwaad. En wanneer hulle die waarheid by toeval spreek sal jy hulle nie kan glo nie: en jy sal hulle laat vrykom waar hulle skuldig is en straf waar hulle onskuldig is. Jy sal hulle opregtheid ondermyn en hulle regverdigheidssin verderf, en hulle tot bedrieërs maak.

Daar sal altyd tye kom wanneer jy hulle moet straf, al is jy hoe sag. Jou kinders is nie heilig nie, want hulle aard na jou. Straf dan en straf streng, en laat jou dreiement nooit ydel wees nóg jou beloftes nie. Maar om die straf sal hulle jou nie haat nie maar eerbiedig: dit is nie die straf van 'n bose vyand nie maar van 'n liefhebbende en geliefde ouer. Wees die boesemvriend van jou kinders, en jy sal met doeltreffendheid die vyand kan wees van hulle ondeugde.
bo


DIE PERKE VAN ONS TOEGEEFLIKHEID
As die ander man nie wil die helfte van die pad gee nie, gee jy dan die hele - die een helfte omdat dit jou plig is as sy gelyke, die ander helfte omdat dit jou voorreg is as sy meerdere.

Toe ek nog jonk was het ek rusie gemaak met hom: en hy het altyd teruggepraat. Meesal was hy 'n beter twismaker as ek - want as hy nie van dié geaardheid was nie sou hy nie ander mense se pad steel nie. Nadat ek 'n hele hoop tyd vermors het, en twede-beste uit die woordewisseling uitgekom het het ek hom gewoonlik gedreig met 'n aanklag voor die Hof. Maar 'n mens se bui gaan weer oor, en my wins uit die staatmakery op my reg was altyd minder as nul.

Nou draai ek uit met 'n glimlag en 'n vrindelike groet. Ek voel my so deugsaam by die selfopofferende gedrag dat ek vir 'n geruime tyd my jongste sonde vergeet. Ek spaar my tyd; ek spaar my humeur; ek salf my gewete.

Dit is papbroekerigheid, sê jy. Ja. Maar ieder 'n man het die reg om 'n papbroek te wees in sy eie belange. Anders sou dit nie syne wees, as hy nie die reg had om met hulle te doen wat hy wil .nie. Jy hoef ook nie 'n man aan te moedig om vir sy eie reg te staan nie. Hy sal eerder te veel eis as te min. Sy partydigheid is nie vir die teëparty nie.

Maar daar is 'n ander opsig waarin ons die uiterste duim van óns helfte van die pad moet eis. En juis daar is dit waar so baie van ons papbroeke is wat uitdraai en vir die vyand die hele pad gee. Almal van ons is voogde, trawante, pandhouers van belange wat aan ons toevertrou is - maar belange om te beskerm, om heilig te hou, want dis nie ons eie nie.

Daar is die pand wat aan elke kiesgeregtigde toevertrou is onder ons stelsel van volksregering. Die verraaier sal met 'n glimlag kom of met 'n geldbeurs of met 'n dreiement of met 'n leuen - volgens die maat van jou wat hy geneem het, en hy sal die hele pad wil neem. Trap daar vas: dis nie jou pad om weg te gee nie. Dis jou land en volk s'n.

Luther kon ook padgegee het. Maar hy het vasgetrap, en daarom het hy die pad skoongehou vir sy nageslag: vir jou en vir my. Die martelare in die geskiedenis van die wêreld vir die waarheid en die vryheid en die geregtigheid, was juis die mense wat padgegee het waar hulle eie belange gemoeid was, en vasgetrap het vir die belange van andere. Anders kon hulle die maklike keus gedaan het. Dan was hulle nie martelare nie.
bo


DIE WAARDERING VAN ONS EGGENOTE
Waardeer jou vrou soos die appel van jou oog. Dis nie 'n geringe saak dat daar iemand is wat onderneem het om haar hele lewe met jou te verslyt nie.
Jy sal wel nou en dan hoor dat iemand van jou geseg het hy kan jou nie verdra nie. Soos gebruiklik is, sal dit agter jou rug gesê geword het; en soos ook gebruiklik is, sal dit deur 'n derde persoon aan jou oorgedra geword het. Die aanmerking sal jou seergemaak het en jy sal bitter gevoel het teen die man wat dit geuiter het. Want niks grief ons só as om in ons eieliefde gekrenk te word nie. Maar probeer jy ooit om 'n verskoning te maak, om 'n ekskuus te soek, vir die buurman wat nie van jou hou nie? Ondersoek jy ooit of hy nie taamlik rede het vir sy teesin nie? Probeer nou eenmaal om jouself te sien soos hy jou sien, om in jou eie oë te kyk, om jou te beoordeel asof jy nie jy was nie maar 'n blote voorwerp om sonder persoonlike voorkeur of partydigheid te bestudeer. Plaas jou gees daarbuite op 'n afgesonderde standpunt en bekyk die gebrekkige verskynsel wat nou vir die eerste maal onder jou aandag kom. Jy sien voor jou 'n liggaam wat kortkom aan skoonheid: waaraan jy die bou, die kleur, die gelaatstrekke, die uitdrukking, in honderde opsigte sou moes verander (as die verbetering in jou vermoë was) voordat hy artistiek volmaak was. Jy luister na die stem wat uit die liggaam te voorskyn kom en hy is min musikaal; ontevrede met die klank, ondersoek jy die uitspraak, die woordekeus, die taalvorm, en dié weer stel jou teleur. Jy trek jou aandag van die vorm af en bepaal hom by die inhoud; jy gaan die betekenis van die woorde na, die waarde van die gedagtes wat daardeur by benadering uitgedruk word; en wat verstandig is, vind jy is nie origineel nie; en wat origineel is, is nie verstandig nie. Hier is 'n sotheid, daar 'n gemeenplaas; min van die gedagtes was die moeite werd om te dink, nog minder die moeite werd om te uiter. Jy bekyk die skepsel oor die algemeen: hier is 'n maniertjie, daar is 'n aanwendsel, ginds is 'n houding: die hele voorwerp, in sy dele en in sy geheel, in sy uiterlike en in sy inwendige, is onaantreklik en onlieflik. Kan jy die smaak van die buurman veroordeel wat só 'n gedoente 'n ie kan verdra nie?"
En tog, dit is die ding wat jy jou vrou mee opskeep. Daarmee word sy elke oggend wakker, daarmee raak sy elke aand aan die slaap. Die spookgestalte, die wangedrog, vergesel haar deur haar lewe: dié dien sy en bedien sy en pas sy op en liefkoos sy. En al die foutjies en houdinkies (ek neem dit dat daar nie ál te growwe by is nie) die het sy lief as onafskeibare trekke wat help om die beminde geheel te vorm. Voorwaar, haar liefde bedek 'n menigvuldigheid van kwaad! En om dié liefde, wat jou nie net kan verdra nie (al is daar soveel rede vir die teenoorgestelde) maar jou op haar hart dra, en in haar hart, en in die binneste van haar siel; om dié liefde, o man, wat jou uiterste verdienste oneindig oortref: om dié liefde, waardeer jou vrou!
bo

DIE BETONING VAN ONS EERBIED
Kyk ieder 'n man waterpas in die oë: jou vader was ook 'n man; maar haal jou hoed vir 'n vrou af, want jou moeder was 'n vrou.

In sekere opsigte kan geeneen van ons onafhanklik wees nie. Ons vorm lede van 'n ingewikkelde ekonomiese stelsel en elkeen dien al die ander in ruil daarvoor dat al die ander hom dien. Die ryk man het 'n skoenpoetser nodig as hy nie self sy skoene wil poets nie; die boer het 'n winkelier nodig, 'n transportryer, 'n ysterfabrikant, 'n mynwerker, as hy nie met 'n beeshoring wil ploeg nie. Maar juis die stelsel wat vir ons afhanklik maak, die maak vir ons onafhanklik: die skoenpoetser kan huur opgee en 'n ander diens gaan soek.

Daar kan tye kom wanneer ons nie elke man in die oë kan kyk nie. Maar dan het ons dit self só bewerk. Die man wat jy jou skuld nie aan betaal het nie; die man wat jy sy reg van onthou het omdat die wet nie volmaak is of die regter alwetend nie; die man wie se karakter jy belaster het uit nydigheid omdat hy beter is as jy; die man wat van jou geheime skande weet en genoeg van 'n fatsoenlike man is om dit vir homself te hou: en meer ander - as daar ander is in jou geval, hoef ek jou nie van hulle te vertel nie - dié mense, sê ek, kan jou nie in die oë kyk nie. Sover as hulle betref het jy jou mannelike onafhanklikheid verkoop vir 'n prys wat minder werd is as niks in die mark van jou gewete en in die weegskaal van jou God.

Wat sal ek van my moeder sê? 'n Man het vir haar die soort gevoel wat dit heiligskennis sou wees om aan 'n ander te fluister en 'n gruwel om luide mee te roem. En 'n weerskyn van die gevoel, ook as sy nie meer daar is nie - ja, te meer as sy nie meer daar is nie - kom voor ons geestelike oog as ons aan al die moeders van ons volk dink in die verlede, en die toekomstige moeders rondom ons van ons nageslag. Daar is slegte van hulle rondom ons - mag dit nie óns wees wat van hulle gevalle engele gemaak het en nou die eerste klip wil gooi nie! Onder bittere lyding het hulle ons in die wêreld gebring; met die sagte hand van 'n liefde wat ons nie kan begryp nie het hulle ons kinderswakheid verpleeg; op ons growwe weg van werk en stryd het hulle steeds vóor ons gehou die lamp van 'n hoë ideaal. Wat hoog en edel in ons is het hulle aangekweek; laat ons nie van ons krag gebruik maak om hulle liefderyke gedienstigheid tot slawerny te verneder nie. Jou hoed af, maat, met nederige aanbidding: dis 'n vróú daardie!
bo


DIE ROEM VAN ONS WERK
Maak vir die man wat nie omgee nie goeie werk. Die man wat omgee sal dit by hom sien en ook by jou kom bestel.

Moenie dink dat wat jy hoor alles is wat van jou gesê word nie. Nou en dan sal 'n man jou kom sleg-sê wat ontevrede is oor jou werk; maar hy is die uitsondering. Nou en dan sal 'n man jou kom prys wat jy voldoening gegee het; maar hy is ook die uitsondering. Jou werk gaan uit jou hande uit die wye wêreld in en jou roem of jou blaam gaan daarmee saam, maar jy bly agter. Net maar, môre en oormôre sal jy jou prys kan vra of jy sal bly wees om die prys van jou klandiesie te neem, naardat jou vorige werk in jou guns of teen jou getuig het. Begint maar klein en onbekend en onder baie teleurstelling en ontmoediging: diegene wat die dinge behoef wat jy kan verskaf, sal nie wegbly omdat hulle jou haat of toestroom omdat hulle jou lief het nie; jy is vir hulle 'n werkman en niks anders nie, en as jy 'n goeie is sal hulle nie veel keuse hê nie want daar sal maar min wees van jou soort. As jy 'n slegte is sal hulle onder hulle eie vrinde en famielie genoeg van dié soort kan kry en liewer daar die voorkeur gee.

Ek het eenmaal by 'n ou veeboer gekom om 'n hamel te koop, en hy het my na sy kraal toe geneem en deur die trop geloop en weer agteruit, en heen-en-weer en kruis-en-dwars, en hy kon nie 'n slagding na sy sin kry om vir my te vang nie. "Maar Oom; " sê ek, "die skape is almal so spekvet dat Oom nie hoef uit te soek nie. Vang voor die voet en ek sal tevrede wees." "Dis nie dit nie, Neef Kerneels. Ek gun jou 'n skaap en ek wil jou 'n goeie laat kry, maar hier is nie een wat ek dit oor my hart kan kry om af te staan nie." Hy was so gesteld op sy vee dat hy hulle te lief had om van die hand te sit. En so sal jy hier en daar 'n timmerman kry wat met liefderyke hand die klerekas, wat jy gekoop het, op jou wa laai, en dit staan en agterna kyk sover as hy die wa kan sien wegry. Hy is 'n ambagsman daardie: hy het sy handewerk lief. Elke artiekel wat hy maak is 'n nuwe skoonheid waarvan hy die skepper is: dis syne en 'n ander kon dit nie so gemaak het nie, want sy siel het hy daarin uitgegiet. Só 'n ambagsman is die gelukkigste mens op die aarde. Sy arbeid is sy lewenslus. Sy hardste werkdag is sy keurigste vakansie. Nie om die prys of die loon nie - die loon kry hy van die eerste krul wat hy afskaaf tot die laaste - maar om die heerlikheid van sy werk werk hy. Hy sal jou 'n harde prys vra, want die ding wat jy van hom neem gaan van sy hart af. Maar hy sal die prys kry want hy het 'n monopolie: daar is nie die gelyke van sy ware in die ope mark nie. En jy sal die prys gee want die duur ding sal vir jou 'n goedkoop ding wees.

Wat sou die wêreld wees as ons almal soveel eer sou stel in ons plig!
bo


DIE LEDIGHEID VAN ONS GEWIG
Dit betéken nie altyd veel om 'n man van belang te wees nie. Die belangrikste persoon op 'n begrafnis is die dooi man.

En oral waar daar 'n dooie is onder 'n geselskap van lewende nablywendes is dit sy geheimsinnige, akelige, ontsagwekkende gelaat wat die aandag trek. Die trekke is nog dieselfde, maar tog nie dieselfde nie: die uitgebluste vuur van die lewe, lyk dit, het plaas gemaak vir 'n uitsig op die oneindige agter die gordyn. So iets van die majesteit van die dood ontwaar ons ook - 'n skaduwee daarvan, 'n suggestie - op die gelaat van 'n suigeling, van 'n blinde, van 'n kranksinnige. Dis die Sphinx-uitdrukking van misterie.

Maar die aandag-soekery, die sug om die senter van opmerksaamheid te vorm, wat ons nou bedoel is van 'n ander gehalte. Die vóor-aansitters en vóor-aanbidders in die Sinagoge is nie uitgesterf nie. In elke buurte, by elke samekoms, tref jy éen van hulle aan: somtyds meer, maar nooit te veel nie, want dan druk hulle mekaar wedersyds uit: waar almal vóor-sit, daar sit geeneen vóor nie. Ons ken almal die soort man. As hy nie die voorsitter-stoel beklee nie, dan spring hy die eerste op om die voorstel te maak wat enige ander esel (as daar nog is) ook kon gemaak het. "Kêrels;" sê hy (of "Afrikaners" of "broeders" na gelang van die doel van die byeenkoms), "ons moet bymekaar staan." Hy meen ons moet agter hom staan. Nou sou jy sê die man het 'n verwaande dunk van homself. Eintlik het hy 'n slaafse respek vir die goedkeuring van sy mede-mens, anders sou hy nie soveel moeite doen om notiesie van geneem te word nie.

Tog moet ons dit vir hom sê: in die politiek win hy altyd 'n sekere maat van invloed. Want vereers: die politiek is almal se besigheid en dus niemand se besigheid nie. En, ten twede, in die politiek geld die beginsel nie dat die laaste die eerste sal wees nie. Niemand is angstig om iemand anders op die voorgrond te stoot nie, dus kan alleen diegene op die voorgrond kom wat hulleself daarheen stoot. En as dit dan so is, dat dié soort indringer gewoonlik daarin slaag om 'n politieke rang te verwerf, beteken dit dan nie tog darem veel om so 'n man van belang te wees nie? Vir homself, ja. Die belang is groot in sy oë. Die persoonlike voordeel ook dikwels, Maar die belangstelling kan jy ook uitlok as jy 'n sensasie-wekkende misdaad pleeg, as jy met jou buurman se vrou wegloop, as jy dronk deur die straat waggel.

Ledig is mense-roem: ydelheid der ydelhede. Ek en jy leser, weet dit want ons streef nog ons lewe lank daarna. Tiengelieng-tieng, tiengeliengelieng! Kom dans na ons klokke: ons is voorbokke.
bo


Jou ore is oop as jy hulle nie eksprés toemaak nie, en jou mond is toe as jy hom nie eksprés oopmaak nie. Dit wys die bedoeling van die gebruik daarvan.


skakels : angelfire.com/az/langenhoven/















bidorbuy South Africa - Bid, Buy or Sell cameras, computers, diamonds, coins, cars & more on auction at cheap prices



DIE VERENIGING VAN ELEKTRISITEITS TRANSFORMASIE SITUASIE EN UNIFIKASIE NAVORSING
kontak ons by vetseun1@gmail.com (© Kopiereg voorbehou. )