Vetseun FacebookVetseun PageTwitterTwitter (Maarman)InstagramYouTubeLast.fmSoundcloud . . . . . . . . __
Vetseun
Vetseun Boeke Vetseun LPs Vetseun TCs Vetseun VHS Vetseun CDs Vetseun DVDs Vetseun Blu-Rays Vetseun MP3s Vetseun VIDs
Valiant Swart - Die Mystic Boer ry weer...


vetseun
Valiant Swart se historiese debuut word her-uitgereik op 'n beperkte versamelaars-oplaag langspeelplaat!

Negentien jaar na Valiant Swart se baanbrekersdebuut, Die Mystic Boer, oorspronklik op CD vrygestel is, word dit nou vir die eerste keer as langspeelplaat uitgegee, in samewerking met die Kaapse ontwerpersagentskap (en Valiant-vriende) Cow Africa. Aanhangers kan hulself opnuut verlustig in die songs wat die Boland punk vir die eerste keer op die map gesit het, insluitend "Die Mystic Boer", "In Die Transvaal", "Ware Liefde" en "Buitenkant".

"Die Mystic Boer" platebundel sluit in 'n hoë-kwaliteit langspeelplaat (180-gram, 33RPM), die klassieke album-omslag, asook 'n volkleur platekoevert met lirieke, en 'n collage van historiese resensies en eksklusiewe foto's uit die groep se persoonlike argiewe.

vetseun

Valiant vertel: 'Dit was van kleins af my droom om 'n plaat te maak. Toe ek in 1990 voltyds begin musiek maak het, het ek gedink dis maar net 'n kwessie van tyd voor my debuut-uitreiking sou gebeur. Sedert 1985, egter, het CD's geleidelik begin om langspeelplate te vervang as die gewildste musiekformaat. In 1991 het The Dolly Rockers, in daardie stadium die grootste alternative groep in Kaapstad, die laaste beskikbare vinyl in die Kaap gebruik vir die druk van hul EP. Daar was fisies nie meer rou materiaal vir langspeelplate nie. Vir 'n brandarm 'alternatiewe' Afrikaanse rocker soos ek was dit 'n ondenkbare, onmoontlike droom om 'n CD te maak. Ek moes nog vyf jaar vir my debuut wag - op CD.

Teen daardie tyd het langspeelplate al grootliks van die toneel verdwyn. Met die herlewing wat vinyl die afgelope paar jaar ondergaan het, het ek gedink dit sou nogal lekker wees om 'n beperkte oplaag van een van my albums op LP uit te reik. Eendag het Charles van Cow Africa my gebel met die voorstel dat hulle so 'n uitreiking namens my orkestreer. Ek het dadelik ingestem, en hier is my langspeelplaat-debuut uiteindelik - vyf-en-twintig jaar later!'

Die oorspronklike omslag is sorgvuldig hersien en opgedateer deur Cow Africa. Die musiek self is egter onveranderd gelaat; klankvlakke is slegs effens aangepas vir die langspeelformaat.

Charles Miller van Cow Africa reken: "Die herlewing in langspeelplate is iets wat ons almal hier by Cow na aan die hart lê en meeste van ons is ywerige versamelaars. Ons het gesels oor kunstenaars wat perfek sou wees vir vinyl, maar nooit in daardie formaat verskyn het nie, en Valiant se naam het sommer heel eerste opgekom. Dit was duidelik dat hierdie projek moes gebeur."

Met hierdie uitreiking van "Die Mystic Boer" verskyn Valiant Swart se musiek die eerste keer ooit op langspeelplaat. Gepas dan dat dit sy debuut is, en ook net betyds is vir die 20-jaar herdenking daarvan.

Slegs 500 van hierdie besonderse versamelaarsitems is beskikbaar teen R300 elk.

Kyk 'n onderhoud met Valiant: https://www.youtube.com/


Bestel aanlyn by Permanent Record (www.permanentrecord.co.za) of koop ene van Valiant self by sy volgende optrede!



Meer omtrent Valiant Swart:
Valiant Swart is een van die voorste Afrikaanse liedjieskrywers en verhoogpersoonlikhede van die afgelope vyf-en-twintig jaar. Hy word wyd gerespekteer as liriekskrywer, en het reeds sowat 'n honderd-en-twintig oorspronklike komposisies op sestien CD's vrygestel. Sy lirieke is saamgevat en uitgereik in die bundel 'Toorwoorde roep my'.
Valiant het oor die jare 'n reputasie as eersteklas vermaakkunstenaar opgebou. Met duisende optredes op sy kerfstok, is sy vertonings 'n belewenis vir enige gehoor.
Hy het voorts gewildheid verwerf as televisie-aanbieder en akteur, en homself die afgelope tien jaar onderskei as geliefde rubriekskrywer vir verskeie publikasies. 'n Bundel met sy rubrieke het ook al verskyn.


Meer omtrent Permanent Record:
Permanent Record is 'n onafhanklike platemaatskappy in Kaapstad, gestig om plaaslike kunstenaars te help om hul musiek op langspeelplaat (of vinyl) vry te stel. Permanent Record is nie genre gebonde nie en het in minder as 'n jaar reeds vrystellings van Valiant Swart, Francois van Coke, The Slashdogs, Hilton Schilder, Peasant en Wildernessking die lig laat sien.

Webwerf: http://www.permanentrecord.co.za/


Meer omtrent Cow Africa:
Cow Africa is 'n boetiek ontwerpersagentskap in Kaapstad wat spesialiseer in non-tradisionele bemarkingsmetodes. Nog opwindende langspeelplaatvrystellings vir van hulle gunsteling Suid-Afrikaanse kunstenaars is beslis op die kaarte...

Webwerf: http://www.cowafrica.com/blog


vetseun


skakels :












bidorbuy South Africa - Bid, Buy or Sell cameras, computers, diamonds, coins, cars & more on auction at cheap prices



DIE VERENIGING VAN ELEKTRISITEITS TRANSFORMASIE SITUASIE EN UNIFIKASIE NAVORSING
kontak ons by vetseun1@gmail.com (© Kopiereg voorbehou. )