Vetseun FacebookVetseun PageTwitterTwitter (Maarman)InstagramYouTubeLast.fmSoundcloud . . . . . . . . __
Vetseun
Vetseun Boeke Vetseun LPs Vetseun TCs Vetseun VHS Vetseun CDs Vetseun DVDs Vetseun Blu-Rays Vetseun MP3s Vetseun VIDs
Die Pro Musica-orkes
vetseun
A Tribute to Hans van Heerden . JNSD40 1996 JNS MUSIEK
- Roodepoort City Opera o.l.v. Weiss Doubell

DIE Suid-Afrikaanse operatoneel is deur die dekades goed bedien van baritons wat hier en in die buiteland besonderse prestasies behaal het onder andere Bob Borowsky, Dawie Couzyn, John Eagar, Gregorio Fiasconaro, Lawrence Folley, George Fourie, Angelo Gobbato, André Howard, Werner Nel en Wicus Slabbert.
Een van die reuse in dié uitgelese geselskap is Hans van Heerden, en dit sal liefhebbers van die stem verheug dat 'n opname pas deur JNS Musiek uitgereik is onder die titel A Tribute to Hans van Heerden. Die inisiatief vir dié opname is geneem deur Weiss Doubell, direkteur van die Roodepoortse Stadsopera en Die Pro Musica-orkes, met wie Van Heerden die afgelope tien jaar nou saamgewerk het.
Die CD van net meer as 'n uur bestaan uit lewende opnames van uittreksels uit produksies in die Roodepoortse Stadsteater waarin Van Heerden opgetree het Nabucco, Rigoletto, Hànsel und Gretel, Tosca, Le Nozze di Figaro, Don Giovanni en Fidelio. En dit is juis as die Babiloniese koning, die hofnar, Scarpia en Pizarro dat Van Heerden in sy lang loopbaan in die buiteland en hier sulke skitterende prestasies gelewer het. En dan is hier ook die Mozart-rolle op die koop toe.
Van Heerden was nog altyd bekend as die man met die gróót stem, en dié enorme volume word effektief aangewend om veral die skurk-karakters waarmee hy vereenselwig word, in al hul demoniese fasette te illustreer. Luister gerus na die smeulende Scarpia en demoniese Pizarro, en deur die CD sal dit duidelik wees waarom sy impak op die verhoog so sterk is.
Saam met Van Heerden is daar 'n groepie jong soliste wat goeie bydraes lewer Estelle Kruger as 'n klokhelder Gilda (Rigoletto), Sally du Randt as 'n vokaal selfversekerde ma (Hànsel und Gretel) en Isabelle van Zyl, imposant in 'n stormagtige toneel (slot van die eerste bedryf) as Tosca.
Met lewende opnames is dit so dat die musiek nie ''skoon'' is nie,
maar hier is dit 'n pluspunt. Die klank is verrassend helder en vergelykbaar met van die beste lewende opnames op internasionale etikette. Weliswaar is dit ook so dat die meer onlangse op names van 1993 tot 1995 beter klink as die twee uit die Mozart-jaar, wat tog wollerig op die oor val weens 'n te sterk basklank.
Die Roodepoort-teater is klein en as sodanig is lewende opnames besonder aangewese. Die onmiddellikheid baat baie by die onmiddellikheid van die gebuere op die verhoog en die gehoorreaksie.
Die Pro Musica-orkes onder Doubell klink nie vlekloos nie, maar opwindend; soms selfs té entoesiasties. Die volle oorgawe is veel verkiesliker as die soms só verfynd-korrekte orkesspel wat soveel opera-CD's kenmerk.
Hierdie Tribute is nie net 'n meer as welverdiende (permanente) hulde blyk aan 'n sanger van formaat nie, maar ook 'n uiters gepaste eerste opera-opname uit die ondernemende JNS Musiek-stal, danksy Roodepoort. En daar is die hoop dat dit dalk net as aansporing kan dien vir soortgelyke pogings in die plaaslike operabedryf.
A Tribute to Hans Van Heerden Roodepoort City Opera. Uittreksels uit Verdi se Nabucco (Sinfonia; Dio di giuda) en Rigoletto (Tutte le feste al tempio; Piangi, piangi, fanciulla; Si vendetta); Humperdinck se Hànsel und Gretel (Bedryf 1, Toneel 3); Puccini se Tosca (Bedryf 1, Finale); Mozart se Le Nozze di Figaro (Non piú andrai) en Don Giovanni (Madamina); Beethoven se Fidelio (Ha! Welch ein Augenblick).
Met Hans van Heerden, Estelle Kruger, Sally du Randt, Isabelle van Zyl, Charl Erasmus, Carl-Rudolf Kaiser, Christie Pienaar. Die Pro Musica-orkes en verskeie kore o.l.v. Weiss Doubell. JNS Musiek JNSD40. - Beeld argief (1996)


skakels :












bidorbuy South Africa - Bid, Buy or Sell cameras, computers, diamonds, coins, cars & more on auction at cheap prices



DIE VERENIGING VAN ELEKTRISITEITS TRANSFORMASIE SITUASIE EN UNIFIKASIE NAVORSING
kontak ons by vetseun1@gmail.com (© Kopiereg voorbehou. )